
Mnr. Johan de Vos met ’n glas van die water met die geel afsaksel in wat uit Carolina se krane kom.
Die water van Carolina is volgens die munisipaliteit geskik vir menslike gebruik, al dryf ’n laag geel, olierige vloeistof in water wat uit die dorpskrane kom.
Die dorpenaars kla al die afgelope twee weke oor die afsaksel in hul water.
Mnr. Mxolisi Gumede, bestuurder van watersake in die Albert Luthuli-munisipaliteit, wat Carolina bedien, het gesê daar is nie fout met die water nie.
“Ek gebruik en drink die water daagliks.”
Inwoners stem egter nie saam nie.
Mnr. Johan de Vos het gesê die afgelope twee weke is daar ’n geel jellieagtige afsaksel in die kraanwater.
“As jy die water in ’n glas gooi, is dit suiwer, maar ná ’n paar minute vorm dit ’n afsaksel. Die water ruik ook vreemd en is onsmaaklik.”
De Vos ry elke dag sowat 50 km van Carolina na sy ander huis in Hendrina om te gaan bad.
Die probleem met besmette water het glo vroeër die maand ontstaan toe werkers chemikalieë deurmekaar laat raak het.
’n Beeld-bron het gesê werkers het chemikalieë wat gewoonlik in die rioolaanleg gebruik word blykbaar omgeruil met dié wat vir watersuiwering gebruik word.
“As jy ’n paar druppels huishoudelike ontsmettingsmiddel in die water gooi, flokkuleer dit onmiddellik en vorm die geel laag.”
Gumede het gister bevestig dat probleme met watersuiwering op 11 Januarie ontstaan het.
“Die water was toe ondrinkbaar en ongeskik vir menslike gebruik. Ons het die gemeenskap hieroor ingelig.”
Hy wou egter nie bevestig of ’n omruiling van die chemikalieë tot die krisis bygedra het nie.
“Die departement van waterwese kyk ook na die situasie.”






